Enkeling of drenkeling?

Screenshot_2018-01-24-13-26-20-1

Ek wonder soms waarom ek nog enkellopend is. Ek is nie allergies vir enigiets nie, ek bestel nie slaai op dates nie en ek dra nie tights in die publiek nie. Tog vind ek myself steeds aan die kant van die draad wat op Saterdae aande hul waterverf-stelle uitpluk en dink die partytjie ruk.

Natuurlik is ek alleen. Ek is nie mooi genoeg om ’n lyfwag te hê nie en ek gaan beslis nie hierdie pak chips met iemand deel nie. Die mens se obsessie om af te paar is buitendien belaglik. Ons word bang gepraat met leuens van vroeë onvrugbaarheid, ’n ongesonde liefde vir katte, twee budjies (moontlik drie) indien ons nie al op 20 bestuif is nie.

Ek beny dikwels die naïwiteit van oorkatoolse tieners wat aan mekaar vassuig vir ’n volle twee weke en dan die titel “liefde” aan hul simbiose toeken. Ek bevind my onlangs by ’n kunstefees agter ’n markiestent besig om skelm brownies te eet. Wel, nie heeltemal “skelm” nie. Ek, die tannie by die brownie-stalletjie, my bobene én Jesus weet daarvan. Langs my sit-lê twee voorskoolse, bronstige seekatte wat mekaar nog nie in oënskou geneem het nie. Susan is te besig om Pietertjie se stamboom uit te brei met haar tong. Ek staar. Mens mag staar as jy 23 en enkellopend is. Hoe heilsaam. Ek voel amper skuldig. Asof ek moet betaal om te kyk. Sy is seker al swanger, dink ek. Ék is seker al swanger.

Screenshot_2018-01-24-13-21-31-1

Ek gee nie om vir onskuldige aanslae soos dié van die publiek nie, maar dit tref nogal die hart as dit van eie bodem af kom. Dis hoekom ek groot, uitgebreide familie-etes haat. Álmal is genooi. Selfs dié wat jou laas gesien het toe daar nog kwyl by jou mondhoeke uitgeloop het (nietemin getuig dit van ‘n beter tyd in jou lewe). Ek is heeltemal bereid om Binneboud Sokkietreffers Volume 3 weer te luister as ek net één jaar vrygeskeld kan word. Dis die jaarlikse samekoms van grillerige ooms met insluksoene en die habitat van Constantia-tannies wat lankal nie meer by hul mans slaap nie. Ek sien een van hulle nadersweef. Sy sal aanvoer dís wat engele doen. Ek ken haar van geen kant af nie; tog voel sy genope om haar tot my enkelbestaan te wend. Ek is verbaas sy kon tyd afstaan van haar gespoggery oor die goeie kwaliteit van haar Woolies-frikadelle. “En hoe gaan dit met die liefde?”

Ek sal veel eerder oor die frikadelle praat.

“Ag maar so tussen die boom en die bas, Tannie. Ek is mos maar meer los as vas.” Dis ’n grappie. Sy deel nie my sentiment nie. Sy trek haar pruimmond soos een wat in hondepoef getrap het en ek kyk hoe my toekomstige strandhuis in Stilbaai wegloop. Ek gee my oor aan ’n frikadel. Ek – die lewervlek van die familie. Die ongeneesbare. Die onaangeraakte. Die maagd.

Hulle sê mens vind net drie maal ware liefde. Ek was al in die bevoorregte posisie om dit twee keer te ervaar: toe my hond vir die eerste keer “mamma” sê en toe Jurie Els aankondig hy trek Nieu-Seeland toe om ander met sy sangtalent te bekoor. Of die voorafgaande nou ’n leuen is of nie; volgens my het ek nog net een kaart op die spel  ̶  één kans op liefde. Ek beplan om dit te gebruik op pasta. Netnou hardloop dit na drie maande weg saam met Elna van ontvangs en los my met ’n sitkamerbank en ’n gebruikte toiletborsel.

Tot dán wens ek die wêreld wil verstaan: My enkellopendheid is ’n keuse. Dis net nie mý keuse nie.

Screenshot_2018-01-26-00-09-49-1[1]

 

 

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s