Verkeersdepartement, mag ek maar vent?

 

Finale Blogfoto 1

Ek staar onlangs in afgryse na my lisensiefoto. Ek gaan nou beslis nie gevra word om Calvin Klein se nuutste onderklerereeks te modelleer nie. Ek was baie passief op 18. Die foto weerspieël dit. Met ’n skok sien ek dat my lisensie reeds ’n maand gelede verval het. Nadat ek al herahaaldelik in noodsituasies my gebrek aan ’n geldige rybewys blameer het op dood in die familie, ’n swak blaas, nie-organiese groente en slegte keuses in my jeug, dwing die polisie my om myself oor te gee aan die verkeersdepartement.

Met die intrapslag weet ek sommer; die wêreld is my woning nie. Die polisie moet verstaan. Die wese agter die toonbank suig-lek aan ’n doughnut. As jy só intiem wil verkeer met ’n oliebol, dan móét jy hom op ’n tweede date vat én sy ma ontmoet. Dis net goeie maniere. Met elke hap voel ek hoe die lewe my liggaam verlaat.

“Wat wil jy hê?” Effens dormant.

“ ’n Huis met ’n tuintjie, 2.5 kinders, geld…maar meestal liefde.”

Geen reaksie. Die persoonlikheid van ’n dakteel. Sy sit roerloos en staar na my soos ’n klipakkedis. As sy so leweloos is binnenshuis wil ek nie weet hoe sy lyk as sy ’n tydjie in die son gelê het nie.

“Net ’n nuwe lisensie, asseblief.”

Sy vra dokumente aan. Alles op een toon – C-mineur. Bewys van vorige lisensie, bewys van adres, bewys van betaling, bewys van my eerste tree, my eerste tand, dat ek in Kersvader geglo het en laastens, bewys van lewe (hier staan die gees van Nicolette van Schalkwyk!). En ek moet ’n foto ook hê. Die eerste een was nie afskuwelik genoeg nie. Die vereistes vir die foto is oneindig : dit móét A10 grootte wees (enigiets groter as dit sal net skade aanrig), jy móét lyk soos ’n wasbeeld en dit word slegs gedruk in vyftig skakerings van afgryslik.

Na die fotosessie noem die karkas dat ek vir ’n oogtoets ook moet gaan.

Ek kan nie. Ek het nie geleer nie.

Ek word beduie na ’n klein kamertjie en gesê-vra om op ’n baie verdagte stoel te sit. Ek gaan definitief ’n roompie moet gebruik vir die seksueel-oordraagbare siekte wat ek nou op hierdie vierpoot opgedoen het. Ek word aangesê om my voorkop teen ’n plat oppervlak te druk en af te kyk na ’n klein skerm. Dalk, as ek saggies begin ween en onbeheersd begin vertel van my aknee-probleem in graad 9, kry die polisieman my jammer en sit my outomaties deur. Nee, dis oneerlik. Ek gaan eerder net afkyk by die vrou langs my.

Sowat drie ure en vyf doodswense later oorhandig hulle my nuwe rybewys. Ek raak sommer emosioneel. Ek gaan daai stuk papier vir altyd koester, dit vir al my vriende wys, dit uitnooi na ’n braai toe en dit dan ’n ereplek gee teen my kamermuur. Toe tref dit my: oor vyf jaar gaan ek wéér hierdie beproewing moet deurmaak. Ek gaan nóú al myself emosioneel, geestelik, spiritueel, liggaamlik, intern en ekstern moet begin voorberei. Nee, vyf jaar is te min. Ek dink nie ek gaan gereed wees nie. Ek sal  maar voortaan stap waar ek wil wees.

blog foto 3

One thought on “Verkeersdepartement, mag ek maar vent?

  1. En so word 27 Augustus een van die bestes van 2019. JY is moer fantasties liewe Woordwoeker… Dit het net twee van jou skrywe gevat en nou is ek hooked. DANKIE… Flip… Nou Hoef ek skielik vanaand nie n Savannah te drink.. Jy is n tonic… X 10. Ek salute jou… Jou talent is ongelooflik. Dankie

    Liked by 1 person

Leave a comment