Dis nie sweet nie…dis trane!

Screenshot_2018-03-30-18-15-31-1So paar maande gelede nooi ’n jong, hubare man my op ’n draf-uitstappie. Ek vergewe hom die oordeelsfout. Hy ken my nog nie so lank nie. Ek trek my gesig soos een wat sopas uitgevind het hy het twee kinders by drie vroue. Nietemin gee ek hom ’n kans want hy is nogal snaaks, sy bobene is dikker as myne en sy ma kan lekker koeksisters maak.

Hy is verbaas om te hoor ek hou van draf. Ek ook. Sy gunstelingroete is Leeukop. Myne is kombuis toe en terug. Ons het so baie in gemeen.

Ek begin verwoed wysigings maak aan my testament, groet my hond, Google “omvattende lewensversekering” en stel al my naasbestaandes in kennis van die 5km reis wat ek gaan meemaak. Pak ’n mens padkos vir so ’n tog?

So daag hy die Saterdagoggend, 10 dekades voor Christus se geboorte, by my voordeur op. Hoe romanties. Wie draf 6 uur die oggend? Ek sidder om te dink aan al die ander sondes wat hy pleeg. Maar ek probeer om nie te oordeel nie. Almal het hul foute.

Ons was al ’n redelike entjie van die huis af (sowat 100m), toe verloor ek vir die eerste keer my bewussyn. Ek weet nie of dit hierdie stywe tights, akute asma of 23 jaar se niksdoen is nie.

Ek blaas. Iets gaan skeer. My knieë sweet. My lyf lek. Ek kan nie meer onderskeid tref tussen trane en sweet nie. Daar is sout orals. Hy vra die gevreesde vraag:

“Huil jy?”

(Ja)

“Nee, my oë sweet net.”

Ek kan voel hoe my liggaam deur al sewe fases van rou gaan. Ek is tans by fase een – skok en ontkenning. Gevolglik begin ek my gebrek aan asem op alles en almal blameer: die windrigting, die waterkrisis, ons nuwe president en vroeë puberteit.

En toe gebeur dit.

’n Meermin kom verbygedraf. Natuurlik. Ek dink nie die Feëtjie sweet ooit nie, sy perspireer seker net liggies. Sy dra die styfste broekie wat ek in my lewe gesien het. As iets so intiem met my bobeen verkeer het, het ek al lankal ’n interdik teen dit gekry.

BeFunky Collage

Ek wonder nou nog hoekom ons juis in Stellenbosch moes gaan draf het – die Mekka van mooi mense. Hulle vlok saam in klein groepies soos troppe skape. En dan wei hulle heeldag in die Botaniese tuin en suig aan al wat ’n spinasieblaar is in restaurante. En laat die een nou net begin hardloop…dan hardloop hulle álmal. Dis hoekom daar so baie drafklubs op Stellenbosch is en al die mans daai Merino-mopkop-haarstyle het. Dis alles produkte van die skaapkultuur.

En dan is daar altyd daardie een lid van die groep wat minder esteties begaafd is. Ek vermoed hulle verskaf die persoonlikheid en werk die groep se rekeninge uit in restaurante.

Jy sal agterkom dat my poging om die gesprek te herlei van my drafuitstappie nie heeltemal geslaagd is nie. Ek staan steeds gebuk teen die kant van die pad, in ’n anti-respiratoriese toestand, besig om my sondes van die afgelope 23 jaar te bely.

Ek is in elk geval so gesweet, as ek nou hier doodgaan, sal my liggaam vir die volgende twee weke gepreserveer wees van al die sout.

Nodeloos om te sê, die drafuitstappie was nie ’n sukses nie. Ek moes vir ’n volle week daarna binne-aarse voeding ontvang. Ek kan darem nou al weer vaste kos inneem en op my eie loop.

O, en oor waar Hercules hom vandag bevind is ek nie seker nie. Die storie loop hy en die Feëtjie is in ’n drafklub.

Screenshot_2018-03-30-18-17-35-1

Advertisements

9 thoughts on “Dis nie sweet nie…dis trane!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s