Ek het eers onlangs besef ek is kommin

Screenshot_2018-07-27-21-25-09-1[1]

Ek het eers onlangs besef ek is kommin. Vir party mense kom die openbaring reeds vroeg in hul lewe. As jy jou in die voorste ry van ’n Steve Hofmeyr Toeka-tot-Nou-konsert bevind, as jy kaalvoet in die mall loop of as jy maak asof jy verjaar sodat jy ’n gratis roomys by Spur kan kry.

My katarsis het egter eers later gekom. Op 23 in ’n stywe restaurant met ’n jong man en sy Meghan Markle van ’n meisie. Dis eintlik net ’n Susan, maar daai bene kan internasionaal gaan.

Ek is die derde wiel. Ek reken dis die beste wiel wat jy kan wees. Naas die spaarwiel. Ek beplan om dit op my CV te sit.

Sy is van daardie tipe wat nie op gras loop nie of haar wyn ruik voor sy dit drink en dan kommentaar lewer oor die ondertoon van eikehout en perske. Ek weet nie van watter ondertoon sy praat nie. Ek ruik net slegte keuses en daai aand in Jeffreys.

Die man herinner my aan ’n hotelsepie. Blokkerig en passief. En ek is seker daarvan te veel kontak met hom sal ’n krapperigheid veroorsaak.

Ek kyk gespanne rond. Dit lyk soos die opstanding so baie wit tafeldoeke is daar.

Ek doop die Constantia-tannie by tafel vier Brenda-Jane. Sy het sekerlik iewers ’n dogter met die naam Zjante-Lizé. Sy is twee perms weg van ’n bles. Mens kan sien sy het in 1904 laas die vermoë gehad om te frons. Alles aan haar is ingevoer. Ek vermoed selfs die sakke onder haar oë is Gucci.

Die oom by tafel twee staar leweloos na sy vrou asof sy reeds vir die afgelope 30 jaar ’n kopseer het. Of dalk het hy ook die pryse op die spyskaart gesien.

Ek begin liggies sweet. Ek gaan maar net vanaand subtiel aan die tafelpoot suig. Dis al wat ek kan bekostig.

Die prinses se oë dwaal rond op die spyskaart. Die riet praat.

“So, van watter tipe slaai hou jy?”

(Pasta)

“Pastaslaai” (verkeerde antwoord)

Sy kyk na my asof ek in my vrye tyd ander mense se honde skop.

Screenshot_2018-07-27-21-26-22-1-1[1]

Die man roep die kelner nader en mompel iets in Italiaans. Dit klink vieslik. Ek wonder of hy sy ouma soen met daai mond. Ek bestel maar dieselfde, bloot omdat ek niks anders op die spyskaart kan uitspreek nie.

Eers later besef ek dis spaghetti. Ek sou nie weet nie, die porsie was te klein om agter te kom.

Dit is ’n baie perverse pastasoort, moet ek byvoeg. Ek suig verwoed aan daai string deeg, maar dit spring rond buite my mond soos ’n op-hitte worshond.

Die rekening kom. Daar gaan my droom van ’n huisie by die see. Ek gaan nou op 90 moet aftree. As ek my linkernier in ‘n obskure agterstraat verkoop sal ek darem genoeg hê vir die tip.

Screenshot_2018-07-27-21-40-17-1[1]

Met die uitstap by die restaurant grom my maag. Ek is teleurgesteld, arm en ek weeg nogsteeds dieselfde. As ek daardie prys vir iets betaal wil ek ten minste vet word daarvan.

Sy groet my. Ek maak ’n klein buiging asof sy een of ander adelike afstammeling is. Dit het net reg gevoel in die oomblik.

Dis eers toe hulle wegry in hul C-klas Mercedes en vier mans van Checkers (ja, dit raak net beter en beter) my ou Gholf moet brandstoot dat dit my tref: Ek is kommin. Onherroeplik kommin.

Ek lag soos ’n gans, ek het ’n hele versameling Huisgenoot-binneblaaie en ek het daai een keer in 2012 in tights Spar toe gegaan.

Ek rol daardie hele nag in my bed rond. Ek dink terug aan Meghan Markle, die hotelsepie en Brenda-Jane.

En toe onthou ek dit: ’n dergelike oomblik vroeër die aand toe ek my vet vingers in ’n waterglas gedruk het en die laaste suurlemoenskyf probeer uitgrou het. Ek sien weer die afgryse waarmee Meghan Markle na my staar; asof daar dood in die familie is.

Ek lag. Korreksie…ek gans.

Hoekom?

Want net vir ’n oomblik besef ek: I wouldn’t have it any other way.

 

PS. Daai suurlemoen was lekker. Ja, hy was blêddie lekker.

 

 

17 thoughts on “Ek het eers onlangs besef ek is kommin

  1. Ooooooo jy laat my lekker lag. Wil jy nie maar dink daaraan om dit uit te gee in boekformaat nie. Kan nie wag vir die volgende een nie. Doen so voort asb.

    Like

    1. Baie dankie, tannie! Ag mens kan maar net droom van ‘n boek. Op hierdie stadium vreet my studies so baie van my tyd. Maar ek sal maar altyd so tussendeur skelm skryf. Hopelik sien die Sarie my raak. 😉

      Like

  2. Ek het al te lekker (in afrikaans) gelag toe ek dié lees en ek het dit sommer met my vriendinne gedeel ook (veral my Kaapstad mense)!

    Dankie al die pad van Nederland af – ek hoop om nog veel meer van jou te lees.

    P.s en hier dink ek, ek gaan die eerste (en enigste) Leana wees wat comment…

    Liked by 1 person

  3. Jy is goed, baie goed. Ek kê nou hier en kry muself jammer ondat ek môre moet teruggaan na my loser werk toe. My Seun Pert stuur toe die aan sodat ons nie langer hoef te sulk nie…. 😂😂😂😂😂😂

    Liked by 1 person

  4. Ek het lank terug so lekker gelag vir jou beskrywings. Flip jy het net die vermoee om n leser vas te vang in teks tot die einde. Wel gedaan. Kommin beteken jy is welkom om binne te gaan. Never the outsider. Ek wag om te sien wat skryf jy volgende.👏👏👏

    Liked by 1 person

Leave a reply to malmoeder Cancel reply